SPOKANE, VSA. – Mason Acheson en Parker Perry, adjunk-balju’s van die Spokane-distrik in die Amerikaanse deelstaat Washington is doodgeskiet toe hulle op 3 November op ’n oproep oor huishoudelike geweld gereageer het en ’n vermeende gyselaar uit ’n woning probeer red het.
Die kantoor van die Spokane-distriksbalju het die twee beamptes geïdentifiseer. Hulle is kort ná 15:00 deur skote uit ‘n woning getref toe hulle saam met beamptes van die spesiale taktiese spesialiseenheid (SWAT) probeer ingaan het. ’n Vroulike slagoffer is vroeër in die voorval geskiet, maar het nie-lewensgevaarlike beserings opgedoen.
Acheson, wat sedert 2022 by die balju se kantoor gedien het, was ook ’n SWAT-beampte en het voorheen as ’n polisiebeampte en vuurwapeninstrukteur gewerk. Hy het in die Washington Army National Guard gedien en word deur sy vrou en twee kinders oorleef.
Perry het in 2020 by die balju se kantoor aangesluit en was sedert 2025 ’n K9-beampte. Hy het ook in die Army National Guard as ’n militêre intelligensie-offisier gedien. Perry se familie het ingestem dat sy organe geskenk word om ander mense se lewens te help red. Hy word deur sy vrou, twee kinders en ’n derde kind wat binnekort gebore word, oorleef.
Die voorval word deur Spokane se onafhanklike ondersoekspan ondersoek. Die balju se kantoor het sy medelye aan die families betuig en gevra dat hul privaatheid gerespekteer word.