LIMPOPO. – Twee mans is Maandag in afsonderlike voorvalle in Limpopo in hegtenis geneem weens beweerde verkiesingsverwante misdrywe, waaronder die verwydering van verkiesingsplakkate en intimidasie.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Hlulani Mashaba, is die eerste verdagte in die Mankweng-polisiegebied aangekeer nadat hy na bewering verkiesingsplakkate onwettig verwyder het. Die voorval is glo op video vasgelê. ’n Saak is ingevolge artikel 92 van die Kieswet 73 van 1998 geopen. Die verdagte het reeds in die hof verskyn en die saak is tot 30 November uitgestel.
In ’n afsonderlike voorval is ’n tweede man in die Sekhukhune-distrik in hegtenis geneem nadat ’n klaer se politieke party-T-hemp na bewering met geweld uitgetrek en aan die brand gesteek is. Die voorval het glo lede behels wat met ’n politieke party verbind word. Die polisie ondersoek die saak verder.
Lt.genl. Jan Petrus Scheepers, provinsiale polisiekommissaris, het gewaarsku dat die polisie nie intimidasie, geweld of die onwettige verwydering en vernietiging van verkiesingsmateriaal sal duld nie. Hy het politieke partye, ondersteuners en gemeenskappe gemaan om die wet te respekteer en politieke verskille vreedsaam op te los.