LIMPOPO. – Twee van die drie beskuldigdes in die diefstal van US$580 000 van president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas is skuldig bevind. Die Modimolle-streekhof het Maandag uitspraak gelewer in die saak wat verband hou met die inbraak in Februarie 2020.
Mashudu Malabi, NVG-streekwoordvoerder, sê Imanuwela David is skuldig bevind aan sameswering aan huisbraak met die doel om te steel, huisbraak, diefstal en geldwassery. Froliana Joseph is skuldig bevind aan sameswering aan huisbraak met die doel om te steel, terwyl Ndilinasho Joseph op alle aanklagte vrygespreek is.
Die hof het bevind dat daar geen direkte getuienis was wat die beskuldigdes as die diewe geïdentifiseer het nie en dat die staat se saak hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis berus het. Tekortkominge in die ondersoek is ook uitgewys, maar die hof het bevind die beskikbare getuienis was voldoende om David en Joseph skuldig te bevind. Getuienis oor David se aankope van verskeie duur voertuie, Rolex-horlosies met diamante en ’n huis in Rustenburg ná die inbraak is ook oorweeg. Sy verduidelikings oor die oorsprong van sy rykdom is deur die hof verwerp.
Die saak is tot 13 November vir verrigtinge voor vonnisoplegging uitgestel.
Die Phala Phala-diefstal het in Februarie 2020 plaasgevind, toe 580 000 Amerikaanse dollars uit die president se plaaswoning gesteel is. Die voorval het in Junie 2022 landwye aandag gekry nadat Arthur Fraser, voormalige hoof van die staatsveiligheidsagentskap, ’n strafregtelike klag ingedien het. Die saak het daarna tot verskeie ondersoeke en politieke omstredenheid gelei.