VRYSTAAT. – Twee verdagte mans is op ‘n kleinhoewe in Betlehem aangekeer, nadat hulle glo Dinsdag probeer het om ‘n boer (65) weens ‘n dispuut te benadeel. Die verdagtes het glo op die boer se plaas buite Senekal eers ‘n hond doodgeskiet, trekkerbande beskadig, hooi aan die brand gesteek en daarna probeer om die boer, wat hulle agtervolg het, se voertuig te stamp.
AO Mmako Mophiring sê die boer was die betrokke dag by sy werkswinkel toe hy ’n wit bakkie by sy plaas sien verbyry. Kort daarna het hy skote gehoor en dieselfde voertuig gesien wat vinnig wegry. Hy het die bakkie gevolg en die bestuurder as sy sakevennoot van Bethlehem uitgeken. Die verdagte het glo tydens die jaagtog drie keer teen die boer se bakkiedeur gebots, maar die boer het ongedeerd daarvan afgekom.
Terug op die plaas het hy ontdek sy hond is doodgeskiet, die trekker se bande is beskadig en sy hooi is aan die brand gesteek. Die polisie sê daar was reeds spanning tussen die twee en die verdagte het die boer glo verlede jaar deur WhatsApp gedreig ná ’n dispuut oor skape wat ingevolge ’n hofbevel verwyder is.
Speurders het die verdagtes (19 en 56 jaar oud) Woensdag opgespoor en in hegtenis geneem. Tydens die verdagtes se inhegtenisneming is vier vuurwapens in hulle besit gevind, wat aan toetse onderwerp sal word. Die twee verdagte mans sal na verwagting op 13 April op aanklagte van poging tot moord, kwaadwillige saakbeskadiging en dieremishandeling in die Senekal-landdroshof verskyn.





