Brekende Nuus
Misdaad

2 persone vermis – liggame in vlak graf gevind

Foto: Missing in South Africa

GAUTENG. – Jessica Rabe (20) en Yudistan Pillay (25) is sedert 17 Julie vermis. Die polisie het Saterdag twee liggame in ‘n vlak graf in die Van Dyk-park-gebied gevind. Drie verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Rabe en Pillay is laas lewend in die Van Dyk-park- en Dalpark-gebied in Boksburg gesien. Volgens Nevhuhulwi het polisiebeamptes van Dawn Park op 29 Augustus omstreeks 18:00 inligting opgevolg oor die twee persone wat sedert laat Julie vermis was. Die inligting het hulle na die Van Dyk-gebied gelei, waar ’n soek-en-reddingsoperasie deur die honde-eenheid, forensiese misdaadtoneelondersoekers en plaaslike polisie uitgevoer is. Die liggame van twee persone is gedeeltelik begrawe in ’n erf gevind. Die liggame is na ’n staatslykshuis geneem vir formele identifikasie en verdere ondersoek om die oorsaak van dood vas te stel.

Drie verdagtes, twee mans en ’n vrou tussen 22 en 26 jaar oud, is op 30 Augustus in verband met die moord in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting op 1 September in die Boksburg-landdroshof verskyn.