Brekende Nuus
Misdaad

2 ‘polisiebeamptes’ vas wat man ontvoer

’n Man wat na bewering deur drie mans onder die voorwendsel van ’n polisieondersoek ontvoer is, is Saterdag by Vaal Marina gered.

vaal marina
Arrive Alive

VRYSTAAT. – ’n Man wat na bewering deur drie gewapende mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het uit sy huis in die Villiers-omgewing ontvoer is, is Saterdag (28 November) tydens ’n polisie-operasie by Vaal Marina in Gauteng gered.

Die polisie het omstreeks 06:30 inligting oor die ontvoering ontvang.

Die drie mans, wat siviele klere aangehad het, het na bewering die slagoffer  met geweld uit sy huis verwyder onder die voorwendsel van ’n ondersoek na ’n strafsaak wat in Vosloorus geregistreer is.

Hulle het met die man in ’n Volkswagen Polo weggejaag. Die polisie het die voertuig op die Botchkop-pad by Vaal Marina, in die rigting van Ratanda, onderskep.

Die verdagtes het die voertuig met die slagoffer daarin agtergelaat en die bosse ingevlug. Twee verdagtes is tydens die daaropvolgende soektog in hegtenis geneem en die slagoffer is gered.

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat nie een van die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is nie.

Die polisie vermoed die ontvoering hou verband met ’n poging om geld van die slagoffer af te pers. Hy was na bewering besig om geld as begunstigde van ’n bestorwe boedel op te eis.

Daar is op twee 9 mm-vuurwapens, polisiedossieromslae en die Volkswagen Polo beslag gelê.

Die verdagtes, onderskeidelik 33 en 38 jaar oud, is van Olifantsfontein en Dobsonville.

Hulle sal na verwagting Maandag (30 November) in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die voordoen as polisiebeamptes.

Die polisie is steeds op soek na die derde verdagte.

Bron: Arrive Alive