LIMPOPO. – Mosa Allen Dlamini (34), is deur die Polokwane-streekhof tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan verskeie aanklagte, insluitend die besit van gesteelde voertuie, bedrog, geldwassery en die vervalsing van registrasienommerplate.
Mashudu Malabi, NVG-woordvoerder, sê Dlamini het ’n ooreenkoms met die staat gesluit. Hy het erken dat hy gesteelde voertuie deur Limpopo se grensposte na buurlande vervoer het. Hy het ook toegegee dat hy nommerplate vervals en enjinnommers verander het om die voertuie se ware identiteit weg te steek. Volgens die hofstukke is Dlamini tussen Augustus 2024 en Februarie 2025 drie keer deur die polisie in Polokwane, Musina en Louis Trichardt vasgetrek terwyl hy in besit was van gesteelde Toyota-voertuie. Ondersoeke het later bevestig dat die voertuie in Pretoria en Johannesburg gesteel is.
Die staat het tydens vonnisoplegging beklemtoon dat voertuigdiefstal en smokkel ernstige en wydverspreide misdrywe is wat die ekonomie en gemeenskappe benadeel. Staatsadvokaat George Sekhukhune het aangevoer dat, ondanks Dlamini se samewerking met owerhede, ’n streng straf nodig is om ander af te skrik. Verder is die hof ingelig dat Limpopo al meer as ’n roete vir smokkelsindikate gebruik word. Die hof het saamgestem met die staat se argumente en die 20 jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê.





