Brekende Nuus
Nuus

23-jarige vrou tydens rooftog doodgeskiet

Foto: Yusuf Ambramjee

GAUTENG. – ’n 23-jarige vrou is vanoggend (Maandag) tydens ’n beweerde roof in Thembisa doodgeskiet terwyl sy op pad werk toe was.

Brig. Brenda Muridili, Gauteng-polisiewoordvoerder, sê die skietery het omstreeks 05:45 in Temong, Mapungubuestraat, plaasgevind. Die vrou se besittings is tydens die voorval gebuit. Sy is reeds geïdentifiseer, maar haar familie moet nog formeel van haar dood in kennis gestel word.

Voorlopige ondersoeke het nog geen verband tussen hierdie voorval en die onlangse sake waarin die liggame van vroue in Ekurhuleni gevind is, aan die lig gebring nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie volg leidrade op. ’n Saak van moord en roof word ondersoek. Enigiemand met inligting word gevra om met die polisie in aanraking te kom.