25 jaar tronkstraf nadat barmhartige Samaritaan in kop geskiet is

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – Riaan Ridley Umslana (21) is deur die hooggeregshof tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Anna Gouws (69) van Jeffreysbaai wat hy in die kop geskiet het. Die nasionale vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.

Luidens ‘n verklaring deur Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, is Umslana ook tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en agt jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, asook twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie gevonnis. Die vonnisse loop gelyktydig met die 25 jaar vir moord.

Die hof het gehoor dat Umslana en sy medepligtige op 27 April 2022, Vryheidsdag, met ’n .38-kaliber rewolwer van Loerie na Jeffreysbaai gereis het, met die doel om te roof. Gouws het vroeër die dag geld getrek en haar huishulp afgelaai, toe die twee mans haar langs die pad voorgekeer en vir ’n saamrygeleentheid en kos gevra het. Sy het hulle agterop haar bakkie laat klim en selfs kos vir hulle gekoop. Naby die hoek van Da Gamastraat en die R102 het die beskuldigdes haar gekonfronteer. Umslana het die vuurwapen uitgehaal en haar in die kop geskiet. Sy is op die toneel dood.

Die mans het met haar voertuigsleutels en ’n handsak met persoonlike dokumente, ’n bankkaart, selfoon en ander items ter waarde van sowat R115 000 gevlug. Hulle het later probeer om haar bankkaart te gebruik en die vuurwapen van die hand gesit. Umslana is op 4 Mei 2022 in hegtenis geneem en het skuld ingevolge ’n pleitooreenkoms erken.

Die saak teen Donovan Chadon Rossouw (21), Umslana se medebeskuldigde, begin op 24 Februarie 2026.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief