GAUTENG. – Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n man (23) vandag (Donderdag) in Hyde Park, Bramley, Johannesburg, geskiet is. Volgens Yusuf Abramjee is die gewonde persoon’n veiligheidswag en volgens sy verdere onbevestigde inligting woon die seun van die voormalige Zimbabwe-president, wyle Robert Mugabe, op die perseel.
Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi is die slagoffer ’n werknemer by die betrokke woning en is hy vir behandeling na ‘n hospitaal geneem. Die K9-eenheid, speurders van Bramley-polisiestasie en forensiese misdaadtoneelbestuur verwerk tans die toneel. Twee mans, onderskeidelik 28 en 33 jaar oud, is vir ondervraging ingeneem. Die motief vir die skietery is nog onbekend en die polisieondersoek duur voort.
Yusuf Abramjee van Crime Watch sê die beseerde man is ’n veiligheidswag en dat daar glo ’n argument tussen hom en die huiseienaar, die seun van Mugabe, was, waarna die skietvoorval plaasgevind het. Die seun van Mugabe het homself blykbaar in ‘n kamer toegesluit en die polisie se gyselaar-onderhandelaars is na die tonel ontbied.





