LIMPOPO. – Drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ’n ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie in verband met ’n veiligheidstender ter waarde van sowat R16 miljoen by die Blouberg- plaaslike munisipaliteit. Die maatskappy wat aan die ondersoek verbind word, is ook aangekla.
Kapt. Wendy Nkabi, Valke-woordvoerder, sê die inhegtenisnemings is Woensdag met die hulp van Polokwane se taktiese reaksie-eenheid deur die Valke gemaak. Die ondersoek het in 2024 begin nadat klagtes oor beweerde ongerymdhede met die toekenning van die tender by die Valke ingedien is.
Daar word beweer dat die maatskappy wat die tender gekry het, nie aan sekere verpligte tendervereistes voldoen het nie. Dit het onder meer die besit van ’n bepaalde aantal vuurwapens ingesluit. Die Valke het na bewering vasgestel dat vuurwapenreeksnommers wat as deel van die tenderdokumente ingedien is, aan vuurwapens van ander veiligheidsmaatskappye gekoppel was. Ondersoekers het ook bevind dat sekere sertifikate in die maatskappy se profiel en sommige sertifiseringstempels op dokumente glo vals was. Die dossier is daarna aan die Polokwane- gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid (SCCU) voorgelê, waarna lasbriewe vir die drie verdagtes gemagtig is.
Die verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte van bedrog en korrupsie in die Senwabarwana-landdroshof verskyn.