GAUTENG. – Drie vermeende misdadigers is dood ná ’n jaagtog in Crystal Park en ’n skietgeveg met die Valke. Die voorval hou verband met ’n kaping, ontvoering en ’n poging tot moord, terwyl die slagoffer ongedeerd uit die situasie gered kon word.
Kol. Katlego Mogale sê die span het inligting ontvang oor ’n groep verdagtes wat glo kapings en ontvoerings in Elmweg uitvoer. Beamptes het die gebied dopgehou en die verdagtes se voertuig opgemerk. Volgens Mogale het polisielede kort nadat ‘n vrou glo uit haar motor gedwing is en in ‘n verdagte voertuig gelaai is, omstreeks 20:30, ’n silwergrys Opel Astra opgemerk. ’n Jaagtog het gevolg waartydens die verdagtes op die polisie geskiet het. Hul voertuig het later van die pad geloop en teen ’n wal tot stilstand gekom.
Die drie verdagtes is tydens die skietery dood, terwyl die ontvoerde vrou veilig en sonder beserings gevind is. Twee vuurwapens en van haar gesteelde besittings was in die voertuig.








