Brekende Nuus
Nuus

4 sterf in botsing op R541

Foto: Roshan Singh

MPUMALANGA. – Vier mense is Sondag dood toe twee ligte motorvoertuie reg van voor op die R541 tussen Lochiel en Badplaas gebots het. Die oorledenes is drie mans en ’n vrou, insluitend die bestuurders van albei voertuie. Al vier is op die toneel dood verklaar. ’n Vroulike passasier is kritiek beseer en word by die Embuleni-hospitaal behandel.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die Mpumalanga-departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die oorsaak van die botsing is nog nie vasgestel nie en word ondersoek. Roekelose en nalatige bestuur kan in dié stadium nie uitgesluit word nie. Jackie Macie, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, het sy meegevoel met die naasbestaandes betuig en die beseerde persoon ’n spoedige herstel toegewens.

Macie het motoriste gemaan om verkeersreëls na te kom, binne die voorgeskrewe spoedgrense te ry en hul bestuur by padtoestande, waaronder reën en padwerke, aan te pas. Langafstandbestuurders word ook aangeraai om elke 200 km of twee uur ’n ruskans te neem.