OOS-KAAP. – Twee tieners en twee jong mans is Woensdagmiddag in wat ‘n geteikende aanval blyk te wees, in ‘n huis in Motherwell in Gqeberha doodgeskiet.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Nobuntu Gantana, is die polisie om ongeveer 13:30 na Mnengastraat, NU10, ontbied waar hulle vyf gewonde mans in die sitkamer van die huis aangetref het. Almal het skietwonde aan die kop gehad. Twee was bewusteloos en twee was nog lewend, terwyl nog ‘n bewustelose man met ‘n skietwond in die kop in die slaapkamer aangetref is.
Nooddienste het met aankoms drie van die gewondes dood verklaar, terwyl ‘n vierde tydens KPR op die toneel gesterf het. Een van die gewondes is na ‘n hospitaal geneem waar hy mediese behandeling ontvang. Twee van die oorledenes was 18 jaar oud en twee was 17 jaar oud.
Die oorledenes se name sal bekend gemaak word wanneer hulle naasbestaandes van hul afsterwe ingelig is. Enigiemand met relevante inligting wat met die ondersoek kan help, kan lt.kol. Sithole by 082 457 2812 bel.





