NOORDWES. – Vier verdagtes het in die Mmabatho-landdroshof verskyn nadat hulle verbind is met ’n dubbele moord en sakeroof in Mahikeng. Die inhegtenisneming volg ná ’n voorval op 24 April, toe polisie na ’n skietery by ’n kroeg in Golfview ontbied is. Die liggaam van Maria Gomez (57) is op die toneel aangetref, terwyl haar man, Manuel Gomez (59), later in ’n hospitaal aan sy beserings dood is.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die mans, tussen 21 en 37 jaar oud, staan tereg op aanklagte van moord, sakerooftog en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hulle identiteit kan weens die sensitiwiteit van die saak nie bekend gemaak word nie. Die verdagtes bly in aanhouding en sal na verwagting vir ‘n formele borgtogaansoek op 6 Mei terugkeer hof toe. ’n Vyfde verdagte (32 is intussen ook in Itsoseng in hegtenis geneem en sal op 4 Mei op soortgelyke aanklagte in dieselfde hof voorkom. Myburgh het aangedui dat nog inhegtenisnemings moontlik is.
Voorlopige ondersoek dui daarop dat die egpaar hulle na hul besigheid op dieselfde perseel gehaas het nadat hul seun glo beroof is. Ses gewapende en gemaskerde mans het hulle glo gekonfronteer, gedwing om op die vloer te lê en van onder meer selfone, kontant, ’n skootrekenaar en ’n Ford Ranger beroof. Die voertuig is later in Magogwe verlate gevind, saam met van die gesteelde items wat in die veld gegooi is. Vier vuurwapens, insluitend een wat aan die oorlede slagoffer behoort het, is tydens die ondersoek teruggevind. Nog ’n wapen is as ’n speelgoedpistool geïdentifiseer.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kol. Kgosi Dehimo by 082 773 0630 te bel.





