5 kinders sterf in brand

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

NOORDWES. – Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat vyf kinders Sondagaand in ‘n brandende plakkershut in die Sonderwater- informele nedersetting in Ikageng, dood is.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die slagoffers is drie meisies en twee seuns tussen een en nege jaar oud. Met hul aankoms kort voor middernag het polisiebeamptes ‘n plakkershut aangetref wat heeltemal uitgebrand het. Die liggame van die vyf kinders is binne die struktuur gevind en nooddienspersoneel het hulle op die toneel dood verklaar.

Volgens voorlopige inligting het die kinders se ma’s, wat susters is, hulle alleen by die huis gelaat terwyl hulle na ‘n nabygeleë plek is. Gemeenskapslede het hulle ingelig dat die hut brand, waarna hulle saam met inwoners probeer het om die vlamme met emmers water te blus. Die brand is egter bemoeilik deur die beperkte toegang in die informele nedersetting. Drie van die kinders, onderskeidelik een, sewe en nege jaar oud, was die kinders van een suster, terwyl die ander twee slagoffers, onderskeidelik een en agt jaar oud, die kinders van die ander suster was. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en word ondersoek.

Dit is die tweede soortgelyke voorval in minder as twee weke in Ikageng. Op 6 Julie is die verkoolde liggame van vier maande oue tweelingseuns ná ‘n plakkershutbrand in die Hashtag- informele nedersetting gevind. Die polisie doen ‘n beroep op inwoners om ekstra voorsorg teen huisbrande te tref deur nie kerse en paraffienstowe sonder toesig te laat nie, kinders nie alleen by die huis te los waar oop vure of verhittingstoestelle gebruik word nie, en seker te maak dat elke huishouding ‘n ontsnappingsplan vir ‘n noodgeval het.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief