WES-KAAP. – Vyf mans is op die N1 in hegtenis geneem nadat die polisie tydens ‘n operasie op ’n vuurwapen, ammunisie en ’n groot bedrag geld beslag gelê het. Die polisie vermoed die kontant kan met vorige rooftogte verbind word en die ondersoek duur voort.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê lede van misdaadintelligensie, die Sentraal-Karoo-blitspatrollie en K9-eenhede het Vrydag omstreeks 16:00 ’n voertuig by Prince Albert voorgekeer. Tydens ’n deursoeking is ’n 9 mm-pistool, ’n nagemaakte vuurwapen, 48 rondtes ammunisie van verskillende kalibers en ’n onbekende bedrag geld gevind. Die drie insittendes is daarop in hegtenis geneem. Volgens Spies het ’n K9-eenheid later dieselfde dag nog ’n voertuig by die ingang na die Paarl voorgekeer. ’n Groot bedrag geld is in die voertuig gevind en die twee mans kon nie verduidelik waar dit vandaan kom nie. Hulle is ook in hegtenis geneem.
Die vyf verdagtes het glo in twee gehuurde Toyota Starlet-voertuie van die Oos-Kaap na Kaapstad gereis toe hulle vasgetrek is. Albei voertuie is deur die polisie geskut. Die verdagtes bly in aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is. Hulle staan op aanklagte van onwettige die besit van ’n vuurwapen en ammunisie, asook besit van vermoedelik gesteelde eiendom tereg. Meer aanklagte kan nog bygevoeg word namate die ondersoek vorder.







