Brekende Nuus
Misdaad

53-jarige man laat borgaansoek in moordsaak vaar

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n 53-jarige man het sy borgaansoek in die Cullinan-landdroshof laat vaar nadat hy in verband met ’n moordsaak in die hof verskyn het. Die beskuldigde het glo tydens ‘n Lentedagviering vir Tshepang Nyathi (21) met ‘n mes gesteek toe ‘n groep hom met water wou gooi.

Volgens Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, word daar beweer dat ’n groep jongmense op 1 September in Refilwe-uitbreiding 3 Lentedag gevier het deur water op mekaar en verbygangers te gooi. Die beskuldigde het verby die groep geloop toe hulle glo probeer het om water op hom te gooi. Hy het na bewering ’n mes uitgehaal en die oorledene gesteek. Die oorledene is na ’n plaaslike kliniek geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het. Ná die beskuldigde na bewering deur lede van die gemeenskap aangekeer en aangerand is, is dieselfde dag by Ekangala-hospitaal in hegtenis geneem. Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 Oktober uitgestel.

Dina Pule, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het kommer uitgespreek oor verskeie voorvalle tydens Lentedag-vieringe, waarin mense glo sonder hul toestemming met water natgegooi is. Volgens die minister se woordvoerder is ’n 20-jarige matriekleerling, Mpho Mhlanga, wat ’n gehoorbeperking het, se gehoorapparate beskadig nadat sy na bewering met water natgegooi is. Die voorval het glo haar skoolwerk en voorbereiding vir haar matriekeksamen ontwrig. Die departement het ook sy kommer uitgespreek oor die noodlottige steekvoorval in Refilwe, Cullinan, waarin ’n 21-jarige man na bewering ná ’n woordewisseling oor Lentedag-waterpret doodgesteek is.