MPUMALANGA. – ‘n Voorval waarin 54 leerlinge mediese behandeling moes ontvang nadat hulle glo versnaperinge by ‘n straatverkoper gekoop het, het die Mhluzi-polisie op Middelburg genoop om sigbaarheid te verhoog weens spanning wat in die gemeenskap opgevlam het. Die inwoners het glo gedreig om sekere winkels te plunder.
Luidens ‘n verklaring deur kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, Woensdag is 53 leerlinge behandel en reeds ontstlaan, terwyl slegs een vir waarneming in ‘n privaat hospitaal opgeneem is. Die voorval het egter woede onder inwoners ontketen, met dreigemente dat sekere winkels geplunder kan word. Wetstoepassers het vinnig ingegryp en die situasie gestabiliseer, terwyl lede van openbare-ordepolisiëring en plaaslike polisiekantore ontplooi is om orde te handhaaf en te verseker dat onderrig by skole ongestoord kan voortgaan.
Maondo het die gemeenskap, opvoeders en leerlinge gerusgestel dat wet en orde gehandhaaf sal word en het inwoners gewaarsku om nie die reg in eie hande te neem nie.





