Ses huidige en voormalige werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens oftewel SARS (SAID), is saam met verwante belastingbetalers en handelaars onder verdenking vir hul beweerde rol in ’n korrupsieskema wat die staatskas miljoene rand gekos het.
Luidens ‘n verklaring deur Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, is die bewerings dat doeane-amptenare saam met klaringsagente en invoerders inspeksies gemanipuleer het in ruil vir omkoopgeld. Volgens die SAID het ontledings gewys meer as R45 miljoen se inkomste is nie verklaar nie, wat ’n belastingverlies van sowat R18 miljoen veroorsaak het. Deursoekings- en beslagleggingsbevele is uitgevoer om bewyse en bates te beveilig.
Die individue word daarvan beskuldig dat hulle hul pligte versuim het en aan ’n korrupte netwerk deelgeneem het. Kieswetter sê korrupsie sal nie geduld word nie en dat oortreders aanspreeklik gehou sal word. Hy waarsku dat sulke optrede die staat en openbare vertroue skaad.
Die SAID sê hy werk saam met wetstoepassers om vervolging te verseker, en verdere optrede kan volg. Die publiek word aangemoedig om korrupsie en bedrog aan te meld.
Druk hier om die volledige verklaring van die SAID te lees.





