GAUTENG. – Ses van nege verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle betrokke was by ’n gewapende rooftog by die Relay-winkel in Atterbury Value Mart in Pretoria. Die misdaad het kort ná 10:00 plaasgevind, waarna die winkel se kontrolekamer veiligheidsdienste ingelig het.
Old East Safety Forum sê in ‘n sosialemediaplasing die verdagtes het glo ná die rooftog met ‘n bakkie in Solomon Mahlangu-rylaan in die rigting van Linton’s Corner gevlug.
Die Garsfontein-polisie en Brinant Security was kort op die verdagtes se hakke. Verskeie rolspelers is gemobiliseer om bystand te lewer. Deur effektiewe kommunikasie, vinnige koördinering en gesamentlike reaksie is die verdagtes se voertuig suksesvol onderskep, die gesteelde goedere is teruggekry en ses van die nege verdagtes is in hegtenis geneem. CSI Security het een, Bull Security nog een en Brinant Security vier van die verdagtes in hegtenis geneem. Die gebied is nog tot ongeveer 12:30 vir ander verdagtes deursoek.
In die plasing op Old East Safety Forum word voorts gesê die sukses is te danke aan inligting wat gedeel is, sigbare samewerking en voete op die grond. Daar is van die hutsmerk #ittakesacommunity gebruik gemaak.
Die volgende instansies was by die sukses betrokke: AfriForum Buurtwag, Alpha Security Forum, Axon Security, Bidvest Airwing, Bidvest Protea Coin Security, Brinant Security, Bull Security, Comsafe Security, CSI Security, Delta Blue, Emer-G-Med EMS, Fidelity ADT, Gauteng Traffic Police Airwing, Interactive Security, Kabod Security, Lakes Security Forum, Old East Safety Forum, Proshield Security, Quatro Security, SAPD K9, SAPD Hoofwegpatrollie, SAPD Boschkop, SAPD Brooklyn, SAPD Garsfontein, SAPD Mamelodi, SAPD Silverton, SDS Security, SRU Security, TMPD K9, TMPD Region 6 en VEMRU EMS.





