Brekende Nuus
Misdaad

60-jarige vrou ernstig beseer tydens huisroof

Foto: Verskaf

GAUTENG. – Maria, ’n 60-jarige vrou is ernstig beseer nadat sy Woensdagaand tydens ’n huisroof in Van der Hoffweg, Pretoria, met ’n graaf op die kop geslaan is.

Andrea Wessels, Maria se dogter, sê aan Nuusflits haar ma het skedelbreuk opgedoen en moet Maandag ‘n operasie ondergaan om van die beenfragmente te verwyder. Die familie se doel is om nou die woning veilig te maak, vir wanneer haar ma terugkeer daarheen. Vir hierdie doel is ‘n skarebefondsingsprofiel geskep. Die voorval het in die landelike gebied gebeur wat volgens Andrea naby Kirkney Village is, in Andeon, Kameeldrift-Wes.

Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die Hercules-polisie is kort ná 22:00 na ’n woning in Van der Hoffweg ontbied ná ’n klagte oor ’n huisroof en poging tot moord. Volgens ’n getuie het twee onbekende mans omstreeks 22:00 die woning genader. Die getuie het die huis ingehardloop en die deur toegemaak, waarna die verdagtes dit glo oopgeskop het. Die verdagtes is na die slagoffer se kamer waar hulle ’n venster gebreek en haar met ’n graaf op die kop geslaan het. Hulle het daarna van die toneel gevlug.

Die polisie het die beseerde vrou by Pretoria-Wes-hospitaal opgespoor waar sy mediese behandeling ontvang het. Sy het ’n ernstige snywond aan haar kop opgedoen en kon volgens die polisie nie in daardie stadium praat nie. ’n Samsung-selfoon is glo tydens die voorval gesteel.

Die motief vir die aanval is onbekend. Misdaadondersoekbeamptes het die toneel besoek en bewyse versamel wat die ondersoek kan help. Die polisie ondersoek die saak en doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat tot die identifisering en inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, om na vore te kom.