NOORDWES. – ’n 62-jarige man is deur die polisie in hegtenis geneem nadat ’n vermeende onwettige dwelmlaboratorium Woensdag deur die polisie op ’n plaas in Klipvoorstad naby Jericho ontdek is.
Volgens kol. Anne Magakoe, polisiewoordvoerder, het gemeenskapslede die polisie ingelig oor verdagte bedrywighede en ’n sterk chemiese reuk wat van die plaas afkomstig was. Polisiebeamptes van Brits se misdaadintelligensie, Trio-taakspan en Jericho se sigbare polisiëringseenheid het die plaas besoek. Drie mans het glo die bosse ingevlug toe hulle die polisie opmerk.
Tydens ’n deursoeking is toerusting, chemikalieë en ander materiaal wat vermoedelik vir die vervaardiging van dwelms gebruik is, gevind. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die perseel moontlik vir die vervaardiging van kristalmetamfetamien, algemeen bekend as cat, gebruik is. Die polisie het op verskeie items, waaronder grondstowwe, chemikalieë, toerusting en ’n vermeende finale produk, beslag gelê. ’n Wit Mahindra-bakkie wat glo met die misdaad verband hou, is ook deur die polisie geskut.
Drie verdagtes wat gevlug het, is ondanks ’n uitgebreide soektog nie opgespoor nie. Die saak is vir verdere ondersoek aan die Valke in Rustenburg oorhandig. Die 62-jarige verdagte sal na verwagting vandag in die Brits-landdroshof verskyn.