GAUTENG. – Die liggaam van ’n vrou wat reeds op 7 September in ’n rivier in Clayville, Tembisa, gevind is, is nou amptelik by die ondersoek na die dood van verskeie vroue in Ekurhuleni ingesluit. Die ontwikkeling volg nadat ’n sesde vrou se liggaam vanoggend (Dinsdag) in KwaThema, Springs, gevind is. Twee van die slagoffers is reeds positief geïdentifiseer. ‘n Hoëvlakafvaardiging vergader vanaand oor die situasie.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê ’n hoëvlakafvaardiging onder leiding van Firoz Cachalia, die waarnemende minister van polisie, sal vanaand vergader om ’n omvattende inligtingsessie te ontvang oor die jongste ontwikkelinge rondom die ontdekking van die liggame van sewe vroue op verskeie plekke in Gauteng. Sindisiwe Chikunga, die minister van vroue, jeug en persone met gestremdhede, dr. Polly Boshielo, die adjunkminister van polisie, Panyaza Lesufi, die Gautengse premier en lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, sal deel van die afvaardiging wees. Onder meer sal gefokus word op die vordering met die ondersoeke, die ontplooiing van multidissiplinêre kundigheid en maatreëls om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die moorde, geïdentifiseer word en voor die gereg gebring. word. Die afvaardiging vergader met senior polisiebestuur en ondersoekbeamptes by die Gautengse provinsiale polisiekantoor in Parktown.
Volgens SABC News het die polisie Dinsdag bevestig dat die aantal vroueliggame wat die afgelope twee maande in en om die gebied gevind is, op sewe te staan kom. Die liggaam van ‘n vrou, vermoedelik in haar laat 20’s, is in ’n rivier naby Tembisa Mall gevind. Genl.maj. Fred Kekana, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê die vrou was behalwe vir haar onderklere naak.
Kekana het gesê die polisie het eers later besef dat dié liggaam by die groter ondersoek ingesluit moet word nadat verskeie ander liggame gevind is. Die spesiale ondersoekspan probeer vasstel of die sake met mekaar verband hou. Die polisie kon egter nog nie bevestig dat dieselfde persoon of groep vir al die sterftes verantwoordelik is nie.
Intussen het die Gautengse departement van gesondheid bevestig dat dit die polisie ondersteun met die ondersoek na vroueliggame wat tussen Julie en September 2026 in Ekurhuleni gevind is. Die liggame is na die Germiston forensiese patologiediens geneem, waar twee reeds deur hul families geïdentifiseer is. Die ander slagoffers is nog nie geïdentifiseer nie. DNS-toetsing word gedoen om met die identifikasieproses te help.
Bronne: SAPD, SABC News, eNCA, EWN