KWAZULU-NATAL. – Minstens agt mense is beseer en sowat sewe is vermoedelik nog onder die puin vasgekeer, nadat ‘n gebou kort gelede by eBuhleni Village in Inanda ineengestort het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê kerklede het onmiddellik met soek-en-reddingspogings begin voordat nooddienste op die toneel aangekom het. Verskeie ambulanse en ander nooddienste is na die toneel ontbied om met die reddingsoperasie en behandeling van die beseerdes te help. Agt persone is vir mediese hulp na fasiliteite vervoer voordat ambulansdienste op die toneel was.
Reddingswerk is steeds aan die gang en die aantal beseerdes en mense wat moontlik nog onder die puin vasgekeer is, kan verander namate die redding voortduur. Die presiese oorsaak van die ineenstorting is nie in hierdie stadium bekend nie.





