KWAZULU-NATAL. – Agt mans was die afgelope tyd die slagoffers van ‘n sogenaamde “naakfoto-bedrogspul.” Hulle is glo deur ‘n vrou op sodiale media genader wat voorgegee het om enkel te wees.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het die slagoffers, wat onder andere ’n sakeman, mediese personeel, opvoeders en selfs ’n prokureur insluit, hulp gesoek nadat hulle afgepers is. Die verdagte(s) se modus operandi was om eers vriendversoeke op Facebook te stuur, waarna kort gesprekke vertroue opgebou het. Daarna is vir WhatsApp-nommers gevra en persoonlike en werksinligting oor die slagoffers ingewin. Eksplisiete foto’s het gevolg. Die slagoffers is gevra om soortgelyke foto’s terug te stuur. Kort daarna het die afpersing begin, met eise vir groot bedrae geld.
Verskeie van die slagoffers het reeds groot bedrae betaal voordat hulle uiteindelik hulp gesoek het.
Die publiek word telkemale oor hierdie tipe slenters gewaarsku. Volgens Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) kom hierdie tipe bedrog al hoe meer voor en dit begin dikwels met ’n oënskynlik opregte romantiese verhouding. Bedrieërs bou vinnig vertroue deur aanlyn platforms of selfs persoonlike kontak, voordat hulle hul slagoffers vir finansiële gewin manipuleer.
Rooi vlae om na op te let:
- Verhoudings wat baie vinnig ernstig raak
- Druk om groot finansiële besluite te neem
- Versoeke vir geld vir “noodgevalle”, beleggings of rituele
- Isolasie van familie en vriende
- Onverifieerbare stories en agtergrond
- Skielike verdwyning van die persoon
Slagoffers van hierdie tipe bedrog ly nie net finansieel nie, maar ook emosioneel, aangesien vertroue en verhoudings misbruik word. Die publiek word aangeraai om altyd versigtig te wees met aanlyn verhoudings en nie geld oor te betaal sonder behoorlike verifikasie nie. Ook om raad by familie of vriende te vra voordat groot besluite geneem word. Enigiemand wat vermoed dat hy of sy ’n slagoffer is, word aangemoedig om onmiddellik hulp te soek en die saak aan te meld.
Druk hier om meer te lees.





