ENGELAND. – Betty Bromage, ’n 97-jarige vrou van Cheltenham, het haar eie Guinness-wêreldrekord as die oudste vrou om ’n vlerkloop (wing walk) te voltooi, verbeter. Dit is haar sesde vlerkloop in die afgelope dekade en kom minder as ’n jaar nadat sy ’n beroerte gehad het.
Volgens AOL het sy haar oorspronklike rekord, wat vier jaar gelede opgestel is, oortref. Bromage het geld ingesamel vir die beroerte-eenheid van Cheltenham Algemene Hospitaal waar personeel na haar omgesien het toe sy siek was.
Sy verduidelik waarom sy steeds sulke waagmoedige avonture aanpak: “Ek sal anders verveeld raak met die lewe,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat sy nie meer kan bestuur nie, haar oë nie meer so goed is nie, en sy soms gefrustreerd raak, maar sy wil eerder fokus op dít wat sy nog kan doen.
Die beroerte, wat sy verlede Augustus gehad het, het steeds ’n uitwerking op haar spraak. Sy het egter hartlike dank uitgespreek vir die versorging wat sy van dokters, verpleegsters en hospitaalpersoneel ontvang het.
Imogen Sims van die Cheltenham en Gloucester-hospitaal-liefdadigheidsorganisasie het Bromage se moed geprys. Sy het gesê donasies sal gebruik word vir toerusting en ’n werklike verskil vir pasiënte en personeel maak.
Bronne: AOL, Free Press Journal, BBC





