Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n optog ter veroordeling van plaasmoorde ondersteun wat op Roedtan, Limpopo, deur die Distrikslandbou-unie van Mokopane (Potgietersrus) gehou is.
Verteenwoordigers en lede van AfriForum het die optog in samewerking met ander prominente organisasies bygewoon.
Die beskuldigdes het in die rondgaande hof op Roedtan op aanklagte van die moord op die boer Nicky Janse van Rensburg, sowel as huisroof verskyn. Veronica Grobler en ’n minderjarige seun was ook aanwesig tydens die voorval op 7 Oktober 2022. Deelnemers aan die optog het die dorp met plakkate en kruise binnegaan met ’n duidelike boodskap – plaasmoorde moet stop.
“Plaasmoorde- en aanvalle is ’n unieke vorm van misdaad wat tot onbeskryflike trauma lei en gemeenskappe vernietig. Dit is belangrik dat die media in Suid-Afrika, sowel as in die buiteland, kennis van hierdie gruwelike fenomeen neem. Vandag se optog onderstreep die tragiese krisis van plaasmoorde, maar skep ook hoop dat plaasgemeenskappe hande kan vat om hulself te beveilig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.





