KAAPSTAD.- Volgende jaar se ontvanger van die prestige Afrikaanse Jan Rabie en Marjorie Wallace- skrywersbeurs is die digter en skrywer, Lynthia Julius (30).
Julius is in 2018 as wenner van die Avbob-digkunskompetisie bekroon. Uit die kroes, haar debuutbundel, het daarna verskyn. Sy het in 2022 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.
Volgens prof. Tyrone Pretorius, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Wes-Kaap, beloop die beursgeld R500 000. Hierdie beurs is deel van die nalatenskap van wyle Marjorie Wallace en word aan ’n individu toegeken wat kreatiewe skryfwerk in Afrikaans lewer.
Die beplande roman speel in die 1900’s af en handel oor ’n Nama-medisyneman. ’n Sosio-politieke perspektief word van Namakwaland en sy mense binne die Suid-Afrikaanse konteks oor tyd geskep. Julius gaan die roman in Namakwalandse Afrikaans skryf.
Sy was by ’n “goor” gastehuis een aand toe sy die nuus van die beurs ontvang. “Ek het buite gesit en na die lug gekyk. Dit het verskriklik gereën en die lug het al hoe meer toegetrek. ’n Gevoel van dankbaarheid het oor my gekom.”
’n Saad vir die idee van die roman het by die karakter self begin. “Dit is ’n man. Hy pla my al lank om gehoor te word,” sê sy. “Ek sien hoe lyk hy … hoe praat hy … hoe loop hy.”
Gedurende siekverlof in die jaar het sy tyd in Gauteng deurgebring. Daar het sy baie ver van die Noord-Kaap af gevoel. ’n Televisieprogram oor die Namas en Griekwas het haar oortuig dat sy te lank van haar grond, Namakwaland, weg is. “Ek moet teruggaan en die man gaan vasmaak in Namakwaland … en gaan skryf oor hom.”
Dr. Francois Smith van die UV het haar altyd aangemoedig om net so veel op prosa as poësie te fokus. Lynthia is van mening “Niemand is so doof soos die een wat nie wil hoor nie.” Prosa kom vir haar baie moeiliker as poësie, dit is hoekom sy dit wil aanpak.
Rakende die verskil in die skryfproses van prosa en poësie het sy die volgende te sê: “Die ding waarmee ek die meeste by prosa sukkel, is die handeling tussen die dialoog. Dít wat gebeur tussen wát gesê word.”
Haar planne vir volgende jaar behels verblyf in Namakwaland vir navorsing wat sy in die roman wil inwerk. “Ek gaan met mense gesels en kyk hoe gebeur dinge.”
Vir haar is die hoofdoel van ’n skrywer om nie te lieg nie. “So, die skrywer moet ’n waarheid neerpen en getrou daaraan bly.” Sy het ’n sagte plekkie vir die beplande karakter en wil graag sy waarheid vind.
Bronne: UWC, Lynthia Julius, PenAfrikaans





