GAUTENG. – Fadiel Adams getuig vandag weer voor die Madlanga-kommissie, waar hy uitgevra word oor inligting wat hy aan ondersoekers verskaf het. Die inligting hou verband met senior lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid. Adams is die leier van die National Coloured Congress.
Hy het Woensdag ontken dat hy geklassifiseerde misdaadintelligensiedokumente onwettig bekom het. Hy het aan die kommissie gesê hy het in 2024 ’n koevert gemerk “Top Secret” onder die deur van sy parlementêre kantoor gevind. Die kommissie ondersoek onder meer die bewerings wat Adams oor senior misdaadintelligensiebeamptes gemaak het, asook die hantering van inligting wat hy aan owerhede verskaf het.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het intussen bevestig dat Adams se strafsaak na die streekhof oorgeplaas is, nadat die ondersoek afgehandel is. Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder in KwaZulu-Natal, sê Adams het op 14 Augustus in die Pinetown-landdroshof verskyn. Hy staan tereg op drie aanklagte van bedrog en twee van verydeling van die regspleging.
Die saak is tot 11 September uitgestel, wanneer hy na verwagting in die Streekhof sal verskyn. Adams bly op borgtog onder die voorwaardes wat voorheen deur die hof opgelê is.
Bronne: SABC News, eNCA, NVG





