LIMPOPO. – ‘n Konvooi van motors wat van Zimbabwe na Polokwane met 133 ongedokumenteerde buitelandse burgers gereis het, is Donderdag omstreeks 18:30 deur die polisie se opsporingspan in die provinsie buite Polokwane onderskep.
Brig. Hlulani Mashaba sê na bewering was 133 kinders, vroue en mans sonder geldige dokumente op die voertuie.
Volgens Mashaba het die polisie inligting van die konvooi ontvang, waarna ‘n operasie geloods en 11 voertuie op die N1 opgemerk is. Die voertuie is takties benader, gestop en deursoek. Die voertuie was met onder meer 73 kinders tussen die ouderdom van ses maande en 17 jaar, oorlaai.
Na bewering het die passasiers nie wettige dokumentasie vir hul teenwoordigheid in SA gehad nie en is dadelik in hegtenis geneem.
Mashaba sê voorts die meeste van die insittendes kon nie sê waarheen hulle onderweg was nie en daar word vermoed hulle kan moontlik slagoffers van mensehandel wees.
Die polisie het op agt Toyota Quantums, twee Toyota Hilux- dubbekajuit bakkies en ‘n Toyota Fortuner beslag gelê.
Verskeie departemente, onder andere die polisie, departement van binnelandse sake en departement van maatskaplike ontwikkeling, is ontbied om met prosessering te help.
Die ondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





