GAUTENG. – Demi Labuschagne (11) het hulp nodig om die laaste item op haar wenslysie te vervul. Die jong meisie is aan die einde van 2022 met Ewing-sarkoom in haar knie gediagnoseer. Kanker het egter nou na haar longe versprei en volgens dokters kan daar menslik niks meer vir haar gedoen word nie en is sy terminaal siek.
Belinda Labuschagne verduidelik Demi het eendag haar knie teen ‘n kragboks gestamp en herhaaldelik daarna by die skool op dieselfde knie geval. Omdat die swelling nie gesak het nie, is sy na ‘n dokter in Waverley geneem wat ‘n skandering aanbeveel het en tot die diagnose van Ewing-sarkoma gekom het.
Demi is in die Groote Schuur-hospitaal in die Wes-Kaap geopereer en het chemoterapie by Steve Biko- akademiese hospitaal ontvang. Die jongste toetse van SBAH het egter geen goeie nuus ingehou nie.
Demi se ouma is ook aan kanker oorlede. Alhoewel Demi voorheen ‘n leerder van Laerskool Mayville was, is sy nie weer terug skool toe nie, maar tuis.
“Sy gebruik geen medikasie nie en ons probeer haar net gemaklik hou. Ek het wel kruiemedisyne aangeskaf om te kyk of dit haar nie sal help nie.”
Belinda sê voorts hulle gaan nie net opgee nie en is op soek na nog ‘n mening en gaan ook die uitslae van die MR-skandering na Groote Schuur-hospitaal stuur om te kyk of daar nie iewers ‘n dokter is wat hulle dalk kan help om haar lewe te red nie.
“Ons gaan nie opgee nie. Ek kan haar nie verloor nie.”
As gesin probeer hulle net om Demi se tyd wat nog saam met hulle gegun word iets te maak om te onthou. Demi het ‘n wenslysie opgestel, waarvan heelwat al afgemerk is, maar die laaste wens is om by die see vir ‘n vakansie uit te kom. Kyk jy na die Demi vs Cancer Facebook-blad kan jy die wense wat reeds bewaarheid is, sien – van die Chinese dumplings waarvan sy nie veel gehou het nie, ‘n dag by Gold Reef City, ‘n meisiedag en ‘n tablet wat sy gekry het – en vele meer. Verskeie mense het gehelp om hierdie jong dogter se hartswense tot vervulling te bring.
‘n Engel van ‘n weldoener, Riana Oberholzer van die Suidkus, het met FiND iT kontak gemaak en noem dat sy ‘n week se gratis verblyf vir Demi en haar gesin in Margate gereël het, ‘n gratis dag by Wild Coast Sun se speletjies-arkade, ‘n dag by ‘n waterpark, asook ‘n dag by ‘n vlinderplaas. Al wat kortkom, is om die gesin daar te kry en etes te voorsien.
Die rede waarom Riana so graag vir Demi wil help, is omdat haar eie kleindogter (3) ook kanker het en sy voel die kinders is siek met kanker terwyl hulle nog nie eers verlief kon raak of selfs ‘n matriekafskeidrok kon aantrek nie.
Die vakansie word vir einde Februarie beplan, maar Belinda sê dit moet ook te verstane so gou as doenlik gebeur en vra vir gebede vir die moedige dogter wat teen kanker veg.
https://www.backabuddy.co.za/demi-labuschagne-5500349675414767150
Lees hier onder waarvoor Demi op haar lysie gewens het:
Sy wou die Prime-drankie, Chinese dumplings en pasta probeer. Die res van die wense sluit onder meer ‘n fliek, tablet, swem in ‘n groot swembad, ‘n besoek aan Gold Reef City, ‘ vakansie ens. in. Langs die wens dui die sterretjies aan wat sy reeds gedoen het. ‘n Paar daarvan sal by haar vakansie ingesluit wees.
Prime ****
Chinese dumplings ****
Eat more ramen
“my pasta” ****
She wants to go on holiday
Wants a girls day and sleepover****
Go to gold reef city ****
Fishing with grand dad
Watch a movie in the cinema ****
Wants to go to the game arcade
Wants a tablet.
Big swimming pool
Reach For A Dream het vir haar ‘n Playstation geskenk.
Demi het onlangs bloed begin hoes, maar haar gesin bly positief in die hoop vir hulp aan haar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





