SUID-AFRIKA. – Gretha Wiid, motiveringspreker en skrywer, het die naweek ouers en onderwysers behoorlik aan die gesels op haar Facebook-blad gekry. In ’n eerste plasing het sy ouers aangemoedig om hulle kinders te vra wat hulle onderwysers doen wat hulle afsit, dom laat voel of irriteer, maar ook wat hulle as positief in die klaskamer ervaar.
“Hier is baie onderwysers op my blad. You never know, net dalk lees die regte onderwyser die regte kommentaar raak,” het sy bygevoeg.
Ouers het dadelik begin om hulle ervarings in die kommentaarafdeling te deel. Een ouer het vertel haar kind het met ’n ongelukkige gemoed tuis gekom nadat ’n juffrou niks aan die boelie gedoen het waarvan hy haar vertel het nie.
’n Ouma het gesê haar kleinkind dra baie swaar aan sy tas. ’n Ander ouer deel die ervaring van ’n wiskunde-onderwyser wat gesê het haar dogter sal nooit wiskunde kan doen nie, en hoe hard hulle moes werk om die toe 12-jarige se siening te verander. Sommige ouers het onderwysers wat hulle beroep met passie beoefen, geprys.
Wiid het die volgende dag ’n plasing gemaak waarin sy onderwysers weer ‘n beurt gegee het om hulle daaglikse belewenisse te deel.
Een juffrou het ouers aangeraai om nie heeltyd op hulle fone te wees wanneer hulle hul kinders by die skool gaan haal nie. ’n Ander onderwyser het ouers gevra om nie hulle kinders op te piep en alles vir hulle te doen nie. Daar is ook klagtes oor ouers wat onderwysers tot in die nanag oor huiswerk op Whatsapp vra.
Die kommentaar het gewys dat beter kommunikasie ’n goeie uitwerking op beide ouers en onderwysers kan hê. Dit het die geleentheid gebied dat kinders se perspektiewe ook vertel word.
Dele van die een Facebook-plasing:

Bron: Facebook





