VEREENIGING, GAUTENG. – Louise Rakhothule (11) is Dinsdag oorlede nadat sy op Vrydag 9 Februarie tydens ‘n stryery tussen twee mans by die Transvaliahof-woonstelle in die Vereeniging-sakekern deur ‘n motor teen ’n heining vasgedruk is.
Die meisie is tussen ‘n voertuig en die heining vasgepen toe Patrick Mokhooane na bewering Louis Madeley se Honda Civic met sy bakkie gestamp het. Madeley het na bewering aanvanklik die ingang na die woonstelkompleks met sy voertuig versper.
Die stryery was glo oor ’n gereedskapsboks wat Mokhooane nie aan Madeley terugbesorg het nie.
Vaalweekblad berig Madeley het mense by die hek hoor skree. Hy het eers gedink sy voertuig het as gevolg van die harde stamp aan die brand geslaan. Madeley het besef Rakhothule is vasgekeer en het probeer om sy voertuig in trurat terug te trek. Die voertuig moes egter weggestoot word omdat dit nie wou aanskakel nie.
Volgens Vaalweekblad het die meisie ernstige beserings aan haar ingewande opgedoen. Sy is na ’n Johannesburgse hospitaal geneem, waar sy Dinsdag aan haar beserings beswyk het.
Kapt. Fikile Funda, Vereeniging-SAPD se woordvoerder, het gesê die oorspronklike saak van roekelose en nalatige bestuur is ná Rakhothule se dood na ’n saak van strafbare manslag omgeskakel.
Louise Rakhothule was ‘n leerder aan Laerskool Handhawer in Vereeniging.

Louis Madeley en Patrick Mokhooane. Foto’s: Facebook en Vaalweekblad
Bronne: Vaalweekblad, The Citizen, SAPD, Facebook





