OOS-KAAP. – Phindile Mqulo (48), ‘n voormalige senior registrasieklerk van die departement van justisie, het Maandag vir beweringe van bedrog en voogfondsdiefstal in die Mkhanda-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het Mqulo en sy vriend Anawo Manyi (40) glo in 2009 handtekeninge op tjeks vir begunstigdes vir voogeise vervals.
Die tjeks is na bewering in die naam van Manyi as begunstigde uitgemaak. Nadat die tjeks gewissel is, is die geld glo tussen Mgulo en Manyi verdeel. Vervalste tjeks vir die totale bedrag van R55 000 is uitgemaak en gewissel.
Mqulo is na ‘n soektog Maandag deur die Valke in hegtenis geneem en het vlugtig in die hof verskyn. Die saak is tot 17 Mei uitgestel en Mqulo is op ‘n waarskuwing vrygelaat.





