NOORDWES. – Sers. Lucky Makhubele (39), sers. Christopher Nkuna (44) en sers. Elizabeth Makhasi het gister vir bewerings van korrupsie in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn. Die saak is vir borgaansoek uitgestel.
Lt.kol. Tinyiko Mathebula sê die drie polisiespeurders is Maandag deur die Valke in hegtenis geneem.
Na bewering het die beskuldigdes betaling gevra om ‘n persoon nie in hegtenis te neem nie. ‘n Bedrag van R6 000 is vasgestel, maar slegs ‘n bedrag van R2 000 kon betaal word.
Die uitstaande bedrag is glo geeïs, waarna ‘n lokval deur die Valke gestel is. Die drie beskuldigdes is ná die ontvangs van R4 000 in hegtenis geneem. Hulle is vir korrupsie aangekla.





