WES-KAAP. – Genl. Bheki Cele, polisieminister, en genl. Fannie Masemola, nasionale kommissaris van polisie, het gister ‘n nuwe gemeubileerde tweeslaapkamerhuis in Delft aan Sisanda (21) oorhandig. Sy het sedert sy 15 jaar oud was en hulle ma gesterf het, na haar jonger broer (17) omgesien.
Brig. Athlenda Mathe sê die suster en haar jonger broer is wees gelaat toe hulle ma gesterf het. Hulle ouer suster was ook dood. Sisanda het op die jong ouderdom van 15 jaar as hoof van die huishouding na haar broer begin omsien met finansiële bystand van maatskaplike toelaes.
Mathe sê Delft het ‘n hoë rapporteringsyfer van bendeverwante misdade en jongmense is meestal in gevaar.
Die bou en oorhandiging van ‘n huis aan persone wat deur misdaad geraak word, word jaarliks deur die polisie onderneem. Hierdie jaar se huisprojek is deur rolspelers soos Old Mutual, Metropolitan, Assupol, Gift of the Givers, Homechoice, Blue Label Telecoms, GPF, asook die polisie van die Wes-Kaap se Women’s Network en Men for Change ondersteun. Die behuisingsprojek is deel van die polisie se korporatiewe sosiale aktiwiteite wat daarop gemik is om ‘n veiliger omgewing vir almal te verseker.





