WES-KAAP. – Met die ondersoek na die vermiste Joslin Smith (6) wat verskerp, dring die polisie op verantwoordelike sosialemediagebruik aan. Sy is sedert 19 Februarie vermis.
Brig. Novela Potelwa sê die ondersoek fokus nou op ‘n geïdentifiseerde area in Diazville wat vir die doel van ‘n gekoördineerde soektog in sones verdeel is.
“Items wat gedurende die naweek gevind is, is vir analise na die Plattekloof- forensiese laboratorium gestuur.”
Die soekgeselskap is volgens Potelwa sedert verlede Maandag deur die SA-vloot en die Stad Kaapstad versterk. Saldanhabaai se munispale brandbestryders is ook by die soektog betrokke. Die polisie het die berede eenheid en honde-eenheid se dienste ingebring. Potelwa sê ook speurders van die provinsiale kantoor ondersteun die plaaslike ondersoekers.
Die rolspelers se soektog word deur hommeltuie van die SAPD en die Stad Kaapstad gehelp. Potelwa sê buurtwaglede, gemeenskapsgebaseerde organisasies en plaaslike inwoners werk saam met owerhede in die voortdurende soektog na die vermiste meisie.
Potelwa rig ‘n pleidooi namens die polisie aan lede van die gemeenskap om hulle van die verspreiding van vals inligting op sosiale media te weerhou. Hulle moet ook ophou om die soekery af te neem omdat dit ‘n nadelige impak op die ondersoek kan hê.
“Die hooffokus moet die gekoördineerde pogings wees om Joslin te vind, of om uit te vind wat met haar gebeur het.”





