Die gewilde sangeres, Alouise, het al van kleins af dromme op haar Lego-bokse gespeel. Sy het gedroom om eendag op die verhoog musiek te kan maak.
Een van die onvergeetlikste oomblikke wat haar altyd sal bybly, is die keer toe sy die voorreg gehad het om die lied Small little spoons in Nashville by die Blue Bird Cafe te sing. “Al was ek van ’n ander land, met ander probleme, het al die mense in die gehoor saam met my die gevoelens gevoel. Dit het my aan die krag van musiek herinner,” vertel sy.
Sy werk tans as musiekjuffrou, by Afrikaans is Groot en aan ’n nuwe televisiemusiekprogram. “Ek werk ook aan my eie musiek, so my aanhangers kan binnekort nuwe musiek uit my pen verwag.”
Raad wat sy aan aspirant-sangers het, is om te glo dat hulle goed genoeg is. “Jy is jy en niemand sal jy kan wees nie. Hou aan sing, hou aan skryf, hou aan soek na dit wat die Here in jou gesit het wat jou so uniek maak.”
Aanhangers waardeer haar opregtheid en eerlikheid. In haar show – Alouise, dis ek -gesels sy graag oor haar geestesgesondheid. “Ek sukkel self daarmee,” noem sy.
Sy word gereeld ander name genoem wat sy snaaks vind. “Eleanor, Louise, Helouise, Elouise en Alex.”
Op die oomblik vind sy goeie balans tussen haar professionele en persoonlike lewe, al sê sy nie maklik nee vir werk nie. Dit steel egter soms tyd wat sy vir haarself kon hê. Sy meen dit is iets waarmee meeste vroue wat vir hulself werk, sukkel.
“Wat jy glo in jou kop oor jouself – positief of negatief – is wat jy gaan wees op die einde van die dag,” is waarmee sy haar aanhangers wil bemoedig.
Besoek Alouise se platforms hier.







