KWAZULU-NATAL. – Drie vriende is Sondag in ‘n voertuig in Langalibalelestraat in Pietermaritzburg doodgeskiet, terwyl ‘n vierde in sy arm gewond is.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie is na ‘n skietvoorval ontbied. Drie persone van 26, 34 en 36 jaar, is op die toneel dood verklaar.
Na bewering het ‘n verdagte die voertuig genader en sonder om ‘n woord te sê op die vriende binne-in geskiet. Die motief vir die voorval is onbekend, maar Netshiunda sê dit kan moontlik verband hou met een van die oorledenes, ‘n e-taxibestuurder, wat saam met nog ‘n man by hom ‘n vrou by ‘n nagklub opgelaai het.
Die Pietermaritzburg-polisie het ‘n verdagte vir ondervraging op aanklagte van drie moorde en een poging tot moord, ingeneem.
‘n Vuurwapen wat glo in die misdaad gebruik is, is by die verdagte se blyplek gevind en gekonfiskeer.





