Vonnis vir kêrel wat meisie se pa in vlak graf begrawe

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Patrick Rondganger is Maandag deur die Oudtshoorn-streekhof direk tot 23 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat hy sy meisie se pa doodgemaak en in ‘n vlak graf begrawe het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Rondganger het Eric Xakaka se liggaam in ‘n vlak graf in sy erf begrawe en ou vrieskaste bo-oor gesit om dit weg te steek. Rondganger is 20 jaar vir moord en ‘n verdere drie jaar vir regsverydeling gevonnis. Die vonnisse sal nie gelyktydig uitgedien word nie.

Xakaka het vir vier jaar by sy dogter en Rondganger gebly en het almal finansieel ondersteun. Rondganger het een aand besope by die huis aangekom waarna Xakaka hom beveel het om te gaan, wat hy nie gedoen het nie. Rondganger se meisie het die volgende oggend gaan werk. ‘n Argument het tussen die oorledene en beskuldigde ontstaan, waarna die oorledene verskeie kere gesteek is. Die oorledene is in ‘n vlak graf met twee vrieskaste bo-op begrawe. Rondganger het daarna Xakaka se selfoon verkoop.

Tydens ‘n polisie-ondersoek van twee dae het Rondganger die graf aan die polisie uitgewys.

Rondganger is vir waarneming gestuur om te bepaal of hy bevoeg is om verhoor te word. Die verhoor is deur verandering van regsverteenwoordiging vertraag, asook die feit dat die beskuldigde se meisie, ook die ma van sy kind, nie teen Rondganger wou getuig nie. Sy en Xakaka se broer het slagofferimpakgetuienis gelewer.

Xakaka sou ‘n dag na sy moord sy 60ste verjaarsdag vier.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief