Nuusflits het voorheen berig.
KWAZULU-NATAL. – ‘n Man en nog verdagtes wat vir poging tot moord op ‘n vrou (34) op Amanzimtoti gesoek was, is op Koffiebaai in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.
Reaction Unit South Africa sê 560 km is afgelê, waarna drie verdagtes in hegtenis geneem is.
Die klaagster het Sondag Rusa se hulp ingeroep nadat sy ‘n kriminele saak oopgemaak het (Amanzimtoti MAS 126/03/2024). Binne 18 uur het Rusa die klaagster se voertuig, wat glo deur die verdagtes gebruik is, in die landelike gebied van Umzinto opgespoor.
Sedertdien is 129 wenke opgevolg voordat drie verdagtes – die eggenoot van die klaagster, nog ‘n manspersoon en ‘n vrou – in hegtenis geneem is. ‘n Silwer Toyota Etios (voorheen ‘n Opel Corsa genoem) is ook gevind. Die voertuig, wat deur die mans gebruik was, is glo deur die vrou aan hulle geleen. Sy het ook glo dreigboodskappe gekry sodat sy nie ‘n saak moes oopmaak nie.
Rusa sê die klaagster en haar man was drie jaar getroud. Hy het haar na bewering van juwele en haar voertuig beroof, waarna sy met behulp van twee manlike verdagtes gewurg is. Sy is daarna bewusteloos in ‘n voertuig vervoer, waaruit sy later ontsnap en hulp gaan soek het. Sy sou volgens haar vermoede in ‘n suikerrietland gegooi word. Haar man het haar glo van ‘n buite-egtelike verhouding beskuldig.
Een van die verdagtes, glo op parool vir moord en gewapende roof, het aan Rusa-reaksiebeamptes gesê hy is forseer om die liggaam van die klaagster te vervoer.
Volgens die klaagster se man kon hy nie meer sy vrou se leefstyl bekostig nie. Hy wou glo sy eie lewe neem en het gehoor Rusa is op soek na hom. Nog ‘n verdagte word nog gesoek.
Die verdagtes is by Koffiebaai-polisiestasie aangehou.




