Beweerde ontvoerders in arres en jong man gered

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORDWES. – Vyf verdagtes is Vrydag op verskeie aanklagte in hegtenis geneem, nadat vier verdagtes glo Donderdagaand ‘n jong man (19) in uitbreiding 6 in die Kuma-woonbuurt ontvoer het.

Brig. Sabata Mokgwabone sê die verdagtes staan tereg op aanklagte van huisroof, ontvoering, afpersing en die onwettige besit van vuurwapens.

Na bewering het vier verdagtes Donderdagaand ‘n huis bestorm, ‘n vrou gedreig en van geld beroof. Haar seun se selfoon is gesteel en hy is daarna in die gesinsmotor, ‘n silwerkleurige Toyota Corolla, ontvoer. Die verdagtes het die seun se selfoon gebruik om ‘n losprys te eis. ‘n Ontmoetingspunt is deur gyselaaronderhandelaars gereël nadat die bedrag verminder is.

Tydens die oorhandiging het ‘n man glo van ‘n paneelklopper-werkswinkel gestap, die staatsgeld wat vir die operasie beskikbaar gestel is, gegryp en teruggehardloop. Twee verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie het op die staatsgeld en ‘n silwerkleurige Volkswagen Golf GTI beslag gelê.

Voorlopige ondersoek het die polisie na uitbreiding 3 gelei waar twee mans uit ‘n wit Toyota Camry gespring en weggehardloop het. Een verdagte is in die been gewond, maar beide is in hegtenis geneem. Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking in ‘n hospitaal opgeneem. Die jong man wat ontvoer is se selfoon is in die voertuig en hy in die kattebak gekry.

Daarna is die polisie na uitbreiding 13 in die Kanana-woonbuurt waar twee handwapens gekonfiskeer is en nog ‘n verdagte vir die onwettige besit van vuurwapens in hegtenis geneem is. Die klaers se gesinsmotor is naby die Rex-woonstelle in uitbreiding 2, Jouberton-woonbuurt, teruggevind.

Drie Mosambiekers en twee Suid-Afrikaners, tussen 29 en 38 jaar, sou vandag as verdagtes in die Sitlfonein- en Orkney-landdroshowe verskyn. Die polisie wil ook vasstel of die Mosambiekers wettig in die land is.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief