Boudewijn de Groot se album met Nederlandse lirieke het die begin van Koos Kombuis se loopbaan in Afrikaanse popmusiek beteken. Op skool was hy dol oor rockmusiek en het alles geluister van Bob Dylan tot T. Rex.
Onvergeetlike oomblikke uit sy loopbaan was beslis optredes saam met Donovan en Suzanne Vegas by ’n Vlaamse musiekfees jare gelede. “Dit het my lewe verander om mense soos hulle lewendig te sien optree.”
Sy eerste album in ses jaar, Nag van die honde, is nou aanlyn beskikbaar. Hy is ook pas klaar met ’n Engelse boek The death of History wat binnekort in winkels beskikbaar sal wees. “Dit is ’n dagboek oor klimaatsverandering,” vertel hy.
Volgens Koos het sy doelwitte en motiverings handomkeer verander vanaf die tagtigerjare tot nou. “Omdat die samelewing van daardie tyd te eng en behoudend was, het ek en my vriende destyds die jongmense probeer losmaak en alternatief help dink met behulp van ietwat dekadente en ‘stoute’ lirieke en skryfwerk.”
“Vandag leef ons in ’n uitermate dekadente en korrupte samelewing. Met my nuwe rubrieke en nuwe musiek beweeg ek nou stadig weg van die ‘wild stuff’ en plaas eerder klem op die soeke na moraliteit en na geloof in ’n nuwe konteks.”
Sy onlangse boek, Deur die tonnel van twyfel is ’n selfhelpboek vir jongmense van die sogenaamde “post-kerk-generasie” wat op soek is na waarde in hierdie tyd.
Hy balanseer sy professionele en persoonlike lewe deur met sy katte te speel, boeke by sy kinders te leen en elke dag te gaan stap.
“Moenie wanhopig raak nie. Daar is orals mense wat omgee!” is sy boodskap aan aanhangers.
Besoek sy Facebook-blad.
Luister hier na Nag van die honde.






