VERULAM, KZN. – ’n Pa en seun is ongedeerd na ’n gewapende roofpoging Vrydagmiddag in Verulam na hulle hulle hardewarewinkel gesluit het.
Volgens Reaction Unit South Africa is verskeie aanmeldings van geweerskote deur inwoners uit die omgewing van die Verulam-mark gemaak.
Die pa en seun was besig om uit ’n parkeerplek voor hulle hardewarewinkel te trek toe drie verdagtes die voertuig voorgekeer het. ’n Konfrontasie het ontstaan toe die verdagtes geld geëis het.
Hulle het skote op die pa en seun se VW Polo afgevuur voordat hulle sonder enige geld gevlug het. Een van die verdagtes het ’n 9 mm-pistool op die toneel agtergelaat toe hulle op vlug geslaan het.
Geen beserings is aangemeld nie.
Bronne: Reaction Unit South Africa, Facebook





