VRYSTAAT. – ‘n Bejaarde boer (82) in die Ladybrand-area is in hegtenis geneem, nadat hy glo Vrydagaand ‘n jong man (18) wat saam met sy vriend gejag het, geskiet en gewond het.
AO Mmako Mophiring sê omstreeks 20:30 is die twee jong mans wat gejag het deur ‘n boer van ‘n buurplaas gekonfronteer. Hy het hulle na bewering gevloek en hulle het met ‘n voertuig weggejaag. Die boer het hulle glo gevolg en op hulle geskiet. In die proses is die jong man (18) wat bestuur het in die rug en skouer geskiet. Sy vriend (19) het verder tot op hulle plaas bestuur, waarna die gewonde jong man se oom hom vir mediese behandeling na ‘n hospitaal in Bloemfontein gehaas het.
Mopohiring sê die voorval is Saterdag onder die polisie se aandag gebring. Die verdagte is in hegtenis geneem en beslag is op die vuurwapen as bewysstuk gelê en om ballistiese toetse te ondergaan.
Die verdagte sal Maandag op twee aanklagte van poging tot moord in Ladybrand-landdroshof verskyn.





