Pastoor lewenslank vir moord gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

LIMPOPO. – Ngwako Elvis Selowa-Makhotoka, ‘n sakeman en pastoor van Jesus Christ Grace Ministries, is lewenslank in die Polokwane-hooggeregshof vir moord gevonnis.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde is op aanklagte van moord, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie en poging tot regsverydeling in die hof verhoor en skuldig bevind.

Op 7 Augustus 2021 het Thabiso Lethube Masie en haar vriendin van Shikiming-woonbuurt huis toe gery toe hulle die beskuldigde en ‘n vriend langs die pad teëgekom het wat voorgegee het hulle voertuig het gebreek. Die oorledene het die beskuldigde geken en is uit haar voertuig gelok, waarna sy vyf keer geskiet is. Die beskuldigde het daarna van die toneel gevlug. Hy het die vriend gevra om nie sy identiteit aan die polisie te verklap nie en om die oorledene se voertuig met brandspiritus van vingerafdrukke en vuurwapenresidu skoon te maak.

Die beskuldigde se vriend het as ‘n staatsgetuie gedraai. Die hof moes aanhoor die beskuldigde, wat bewapen was, en sy vriend het die betrokke aand by ‘n kroeg bier gekoop. Hy het vir sy vriend gesê hy het werk om te doen. Hy het geweet die oorledene sal daar verbyry en het die meganiese probleem geveins. Hy het haar buite haar voertuig geskiet. Sy is na ‘n hospitaal gehaas, waar sy aan haar beserings gesterf het. Die beskuldigde het gevlug totdat hy twee maande later by ‘n vulstasie in Polokwane in hegtenis geneem is.

Regter Maake Francis Kganyago het gedurende vonnisoplegging gesê Masie is deur iemand wat sy vertrou het, vermoor. Voorts is daar gesê die beskuldigde is boos en ‘n wolf wat homself in skaapsklere vermom het. Daar is bevind hy het geen berou getoon nie en terwyl hy die beplande misdaad uitgevoer het, het ‘n jong ouderdom nie ‘n rol gespeel nie, omdat hy toe reeds 28 jaar oud was.

Selowa-Makhotoka is dus lewenslank vir moord, die onwettige besit van ‘n vuurwapen tot vyf jaar, die onwettige besit van ammunisie tot twee jaar en die poging om regsverydeling te pleeg tot een jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, dus sal die beskuldigde lewenslank in die tronk deurbring.

Adv. Ivy Thenga het die vonnis verwelkom en adv. Ratshibvumo en die ondersoekbeampte, Eric Mathebula van Mokwakwaila-polisiestasie, vir die suksesvolle afhandeling van die saak geprys.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief