Voormalige soldaat wat met MIV besmet, skuldig bevind

Lees ook :

Foto: AfriForum-privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – Leon Santos Conga, ‘n voormalige SANW-soldaat, is Dinsdag in die Pretoria-streekhof skuldig bevind aan poging tot moord en verkragting nadat hy versuim het om sy MIV-status bekend te maak.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Conga het vir Antoinette Ndishishi, die klaagster wat ‘n saak teen hom gemaak het, met die virus besmet.

Bateman sê bewyse wat deur dié eenheid bekom is, het tot die skuldigbevinding bygedra. Mediese verslae wat deur die weermag aan die eenheid beskikbaar gestel is, bewys Conga was sedert 2007 van sy MIV-satus bewus.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Antoinette Ndishishi, die klaer in hierdie saak, sedert 2018 verteenwoordig. Bateman sê die NVG moes die saak twee keer onttrek omdat die weermag geweier het om die mediese verslae beskikbaar te stel. Die privaatvervolgingseenheid het die weermag volgens Bateman gedwing om uiteindelik die verslae beskikbaar te maak.

Sonder die verslae was daar nie genoeg bewyse om Conga, wat in Maart 2022 op die aanklagte teen hom onskuldig gepleit het, aan te kla nie.

Landdros Fikiswa Ntlati het die skuldigbevinding gemaak omdat die klaagster, nadat sy en Conga ‘n bespreking daaroor gehad het, tot onbeskermde seks ingestem het, aangesien Conga gesê het hy is MIV-negatief.


Ntlati het Conga skuldig bevind aan poging tot moord, aangesien hy Ndishishi met die virus besmet het terwyl hy ten volle bewus was van sy MIV-status en haar nie ingelig het nie. Die hof het deskundige getuienis aanvaar dat MIV ’n siekte is wat ongeneeslik en noodlottig is.

Bateman sê adv. Gerrie Nel, die hoof van die eenheid, sê hierdie is oomblikke wat hom inspireer om ‘n aanklaer te wees.

Ndishishi het haar dankbaarheid vir ondersteuning teenoor die eenheid uitgespreek: “Voorheen het ek net my ma se ondersteuning gehad. Ek voel dat ek nou geregtigheid gekry het, aangesien hy op albei klagtes skuldig bevind is. Eerlikwaar, ek was in trane toe ek die landdros se woorde hoor. Ek het werklik gehuil. Ek het gehuil omdat ek nou al vir sewe jaar baklei, ek is só gelukkig oor hierdie uitspraak.”

“Dit sal goed wees as ander vroue na vore kom en hierdie kwessies aanmeld, veral omdat ons in Suid-Afrika ’n hoë MIV-infeksiekoers het. Hulle moenie bang wees nie. Ek weet dat meeste vroue sal sê dat hulle bang is om na vore te kom weens die stigma en diskriminasie wat met MIV geassosieer word en omdat dit ’n uitgerekte proses is. Maar as jy geduldig is en sterkstaan in jou besluit, dan gaan jy dit maak. Hulle moenie bang wees nie. Ek glo dat mense wat hierdie dade pleeg, toegesluit moet word,” sluit Ndishishi af.

Conga se vonnisoplegging is tot 7 Augustus uitgestel.

Bron: Barry Bateman AfriForum-privaatvervolgingseenheid, woordvoerder.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief