WES-KAAP. – Altesaam nege verdagtes, ses mans en drie vroue, is Dinsdag vir die onwettige besit van vuurwapens in die Khayelitsha en Mandalay-areas in hegtenis geneem.
Sers. Wesley Twigg sê misdaadintelligensie en Khayelitsha-polisie was besig met ‘n operasie toe inligting oor moordverdagtes opgevolg is. Die inligting het na ‘n perseel in Cherry Close in Thembani gelei. Tydens deursoeking van die perseel het die polisie op ‘n semi-outomatiese geweer, ‘n 9 mm-pistool met ammunisie en selfone beslag gelê.
Twigg sê die nege verdagtes, tussen 21 en 32 jaar, is in hegtenis geneem en aangehou. Wanneer hulle aangekla is, sal hulle in Khayelitsha-landdroshof verskyn.





