MPUMALANGA. – ‘n Mosambiekse burger (36) is glo Vrydagaand by die Lebombo-grenspos in Komatipoort met ‘n besending methcathinone, versteek in ‘n voertuig, betrap.
Kol. Donald Mdhluli sê polisielede was omstreeks 19:20 met roetinepligte besig en het ‘n Wit Toyota-minibus wat onderweg van Mosambiek na Suid-Afrika was, deursoek. ‘n Vals kompartement waarin die dwelms versteek was, is in die voertuig ontdek. Die besending het omtrent 17 kg geweeg en het ‘n geskatte straatwaarde van R4.25 m. Die Mosambieker is op ‘n aanklag van die onwettige besit van dwelmmiddels in hegtenis geneem. Die besending is gekonfiskeer.
Die man sal Maandag in die Komatipoort-landdroshof verskyn.
Mdhluli sê genl.maj. Zeph Mkhwanai, die waarnemende provinsiale kommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom.
“Hierdie arrestasie is ‘n beduidende slag vir transnasionale dwelmhandel wat langs ons grense werk. Die SAPD is daartoe verbind om hierdie kriminele netwerke af te breek en die vloei van onwettige middels na ons land te voorkom.”







